Search This Blog

Sunday, 12 December 2010

28ste - 3de November Hong Kong

28ste - 3de November                             Hong Kong
Hong Kong hier kom ons!

Hong Kong, ons eerste belewenis van Asie.  Ons vlug vanaf Sydney na Hong Kong was net so oor die 8 ure. Ons is nou al sooooo gewoond om ons horlosies te stel! Ek moet volpunte gee vir Qantas lugredery hulle vriendelikheid en diens was uitmuntend.  Ons het wel reg agter ‘n Arabiese gesinnetjie gesit van 7.  Pappa, Mamma en dan orrelpypies van ouboet van so 9 jaar, tot  babasussie van so 6 maande – baie interessant!
Eerste stap nadat ons ons groot trek van die band afgehaal het was geldtrek.  Daan se aangepaste aksent en gebare is iets om te aanskou... Geld getrek (12 Hong Kong Dollar vir ‘n Pond) en in die elle lange taxi ry vir die rit na ons hotel.
In Hong Kong is daar 3 kleure taxies rooi, blou en groen – ‘n kleur vir elkde deel van die eiland.  Ons het ‘n vreeslike aangename taxi drywer gekry. Ho, wat ons tasse vasgemaak het met ‘n oop kattebak  en ons laat le het soos ons lag met al sy snaakse stories van hoe sy vrou op sy kop sit. 
Wow, Harbour Grand (North Point), wat ‘n  hotel!  Die mees fantastiese rose,‘n enorme kersboom van kristal en ‘n goue harp met die suiwerste klanke het ons verwelkom. Ek het net my oe toegemaak en geluister, terwyl manlief die papierwerk afhandel.
Ons het nie op ons laat wag om ons Hotel se Spa fasaliteite te benut nie en lekker ontspan in die stoombad en sauna na ons reis.
Met ‘n ongelooflike uitsig vanuit die 38ste vloer het ons “room service” geniet, na die liggies oor die hawe gekyk en bietjie met die familie geskype.
Vroeg, vroeg is ons op en het afgeskop met heerlike“Dim Sum” vir ontbyt.  Ons het teen ‘n spotgoedkoop tarief van 50 Britse Pennies op die “Metro” gespring na Pacific Place.  Hier het ons rondgeloop in die mooiste winkelsentrum maar gou het ons besef, hier is nie ‘n geleentheid vir ‘n winskopie nie.  In die Shangri-Lah Hotel, het ons “Jasmin- en White tee” gedrink uit die mooiste China teekoppies en die mooiste kersboom en kersversierings bewonder.
Soos ware toeriste het ons deur Hong Kong Park gestap en die khoi visse en bitter oulike waterskilpaadjies wat uitgestrek le en bak  in die sonnetjie geniet.
Vandaar het ons op ‘n kameralens soektog gegaan na Lan Kwai Fong (Stanley Street).  Hier het Chung King Lam van oor tot oor geglimlag toe ons sy winkeltjie verlaat met my Kerspersentjie.  Daan het hom wel afgestry, maar hy het het gese meer as die “small potato prys” kan hy nie vir ons gee nie.  Chung se ons kan hom vertrou, aangesien “Chung Pui Photo Supplies” al vir 40 jaar hul bestaan maak.  Sal maar moet sien hoe die kwaliteit van die fotos uitkom...
Die hongerpyne het begin knaag en wat is lekkerder as sushi in Hong Kong.  Oppad terug hotel toe is ons deur ‘n paar interessante markies waar ons vir my “Children’s Centres” klein aandenkings gekoop het vir ons “Chinese New Year Displays”.  Al die reuke en helder kleure is iets wat ons nie gou sal vergeet nie.
Na ons heerlike middagslapie en Spa sessie het ons by ons hotel se deftige resturant (188 degrees) gaan eet.  Yummy!!!  Daan het vir die “Full Monty” gegaan - ‘n 5 gang maal.  Ek het gesmul aan heerlike lam tjoppies en happies van sy kos.
 En so sluit ons nog ‘n opwindende dag af met ‘n romantiese aandjie.
Vandag (dag 3)het ek al my moed bymekaargeskraap vir die “Wet Market”.  Ons Lonely Planet boekie kon my nie genoeg voorberei het vir die storie nie.  Twee dooie varke wat op ‘n trollie gesleep word, opgevolg met honderde lewende vet paddas toegebind in ‘n net met ‘n krat wat oorloop van slange en viskoppe wat die wereld vol le.
Met my stink vis plakkies en ‘n paar rillings deur my lyf het ons die kits kamera van Oz se Koala dag gaan ingee (ek het die dag ons kamera vergeet).  Gewik en weeg of ons ‘n mooi China teestel moet koop in ‘n pragtige winkel, moes ek ons net gou verneder deur ‘n klein potjie te laat van soos “a bull in a China Shop”.  Die skaamte was darem erger as die skade (£1.50).  Ons het toe besluit teen die teestel a.g.v plek(niks met die prys uit te waai nie!).
Hierna het ons ‘n “Ferry” geneem na Kowloon.  Dit is die area aan die Noorde kant van Hong Kong Hawe en het pragitge uitsigte oor Hong Kong se wolkekrabbers.  By “Heritage 1881” het ons ‘n breek gevat en die ongelooflike kersversierings bewonder – en natuurlik al die oulike klein Chinese kindertjies wat te kostlik aangetrek is.
Rondgeloop tussen al die dure horlosie en juweel winkels het ons na die welbekende Peninsula Hotel gegaan vir “high tea”.  Wat ‘n ongelooflike ervaring!  Terwyl Daan opgevang het op sy e-posse het ek nou nie by “Louis Vuitton” iets gekoop nie maar wel ‘n mooi china porselein hangertjie by een of ander ander bekende Oosterse designer winkeltjie.
Vandag was ‘n lang dag en die aand het nog nie eers begin nie...  Gou aangetrek by die hotel het ons Hong Kong gaan rooi verf.  Ons het na “Lan Kwai Fong” gegaan – dit is hulle ekwivalent van Hatfield of Leicester Square.  Ons het al die mense en hul gewoontes bewonder en ‘n heerlike plekkie gevind om pizza te eet (Trivo).
Dag 4 se agenda – “The Peak Tram”.  ‘n Bietjie vars lug met ‘n panoramiese uitsig oor Hong Kong Eiland is net wat ons nodig het.  Dit is die duurste area om te bly en is gewoonlik 5 grade koeler as in die stad.  Die mis het ongelukkig dig gele oor Hong Kong, maar dit was ‘n ander tipe mooi.  Na ‘n paar fotos en lekker lag vir die ou Chinese oom wat goediglik sy hoed wil leen vir ‘n foto het ons soos altyd ‘n lekker plekkie gekies om middagete te eet.
Vanaand is dit perdjie tyd en  perderesies in Hong Kong is groot!  Happy Valley  was ‘n belewenis,  met helderkleurige biertente en mense van reg oor die wereld het ons vinnig vinnig die reels van die storie ontsyfer.  Soveel so dat my perdjie “Our Pegasus” eerste gekom het en Daan se perdjie tweede in resies nommer7.  Ons ignoreer maar die ander 4 resiese waar ons niks gewen het nie, hiehie.
Dag5, ons laaste voldag in Honkie het weer met ‘n massiewe buffet begin.  Hoe ons nog kan eet weet ek nie, maar nog ‘n bietjie “Dim Sum” vir ontbyt het ons die taxie geneem na Kowloon.  By die YMCA het ons aangesluit by ‘n toergroepie.  Saam het ons die “New Territories” gaan verken. Dit is die gebied tussen Hong Kong eiland en vasteland China en bestaan hoofsaaklik uit ‘n klomp landbou bedrywighede en ‘n klompie vissersdorpies.  Daar is ook heelwat natuurreservate.
Ons toergids was bietjie vreemd, maar het vir ons mooi ingelig oor al die verskillende gelowe en gewoontes.  Middagete was iets om te onthou – ‘n ete saam met die toergroep om ‘n ronde tafel met vreemde kossies en dansies. 
Tot ons spyt is ons weer terug na die Western Market, waar ons gister materiaal vir ons Kerstafel gekoop het.  Ons het die materiaal kon omruil en dit was die moeite werd om weer ons Chinese oompie te kon sien met sy oulike uitrusting en lieflike glimlag.  
Terug naby Fortress Hill stasie (ons naaste metro stasie) moes ons ongelukkig eers  vir my‘n dokter opspoor.  Die apteker met sy gebroke Engels, het vir ons Dr Chung Yat Ming Allan aanbeveel.  ‘n Uur later, met ‘n inspuiting en 7 sakkies pille, Bupa vorms geteken en al, kan ons net hoop dat my verskriklike spierpyne nou uitgesorteer sal wees. (Ek het uit die bloute uit vreeslike nek- en rugspasmas ontwikkel)
Ongelukkig was daar nie tyd vir jammer voel vir myself nie en moes ons aangetrek en reg vir ete op Kowloon se hoofstraat wees.  Daan het reeds dag een in Hong Kong die oulike plekkie gesien - “Wooloomooloo” waar ons heerlik geeet het en na oulike Chinese aksent Engelse “live music” geluister het.
Ek het my nuwe kameralense uitgetoets op ‘n groot boot wat besig was om in die hawe te sink, terwyl Daan ‘n koffietjie by Starbucks geniet het.
Dit is 11 uur en die meeste van die Kersliggies is afgeskakel.  Tyd vir ons om te gaan slaap en Honkie vir ‘n laaste keer uit ons hotelkamer te bewonder. Goeienag Hong Kong!

24ste -28ste November Sydney

24ste -28ste November                   Sydney
Met ons wit skip het ons veilig oor Sydney Harbour bridge gearriveer in Sydney.  Ons tannie op ons GPS het so bietjie deurmekaar geraak, maar ons het met nie te veel moeite by ons "Apartments" in die CBD aangekom.
Ons het het ons Camry 7 vloere onder ons gebou parkeer teen $25 per nag, maar besef dat ons so sentraal is nie nie ‘n kar nodig gaan he vir ons tydjie hier nie.
Ons Stedio Flat in die Oaks Maestri Towers, (op die hoek van Sussex en Bathurst – so 300m van Darling Harbour) was op die 18de vloer.  Ons het nou nie uitgekyk oor Darling Harbour nie, maar het ‘n ongelooflik uitsig gehad oor al die geboue.  Ek was egter op die stadium meer geinteresseerd daarin om my Sydney bedjie uit te toets, waar manlief aan die anderkant net wou gaan verken.
Hy het na 2uurtjies teruggekom met baie nuus en ‘n lekker verassing – ’n Harbour Cruise Cabaret en ‘n vier gang maal, alle drinks ingesluit!  Die perfekte geleentheid om die pragtige stad van die water af te leerken. 
Ons danseressies het ons vriendelik ontvang en ons na ons priema sitplekkies vergesel.  Ons het langs ‘n ouer paartjie gesit van Manchester.  Hulle het ons gesleskap meer as hulle eie geniet...
Nie net was die  vertoning briljant nie, maar die verligte Opera Huis het ons in al haar glorie vermaak.
 Karren en John het ons genooi om ‘n “loopdoppie” saam met hulle te geniet, wat dalk nie so goeie idee was nie.  Karren het hom aangeraai om maar nag te se.  Met die Lonely Planet in die hand, het ons doodmoeg in die bed gele, om die dag van more beplan.
“Great idea, but no gear” het ons Andrew se ouers se huis net buite Sydney gegaan.  Alice and Andrew (my eks kollegas by Canon Barnett Primary School) het vir haar neef se troue gekom en kom kuier by sy ouers.  Dit is altyd lekker om iemand se ouers te ontmoet en te sien hoe die puzzle in mekaar pas.
Die manne het die dag spandeer op New South Wales Golf Klub, terwyl ek en Alice opgevang het op verlore geselsies en bederf was by die Novotel se Spa.
Daan het/moes ‘n pragtige souvenir gekoop het om sy rondte golf te kon speel – ‘n nuwe golf broek!  Die golfbaan was pragtig, met etlike gaatjies wat direk langs en oor die kuslyn afloop, maar Hurricane Katrina se kleinsus het ons balle die hele NSW rondgewaai!
Die aand het ons gaan tappas eet by een van die Oostelike voorstede se unieke ‘’up and coming’’ areas, ‘’The Spot’’.  Tappas, Sangria en geselskap was heerlik en presies om middernag het ons lekker saammet Andrew en Alice op Bondai Beach gesit en gesels.  Terug na ons woonstel toe, het Andrew ons met allerhande interessante paadjies na ‘n paar van Sydney se versteekte juweeltjies geneem.
Die volgende oggend het ons moegoog op die Ferry vanaf Circular Quay na Manly Beach vertrek.  Die slaap is vinnig –vinnig uit ons oe gevee, met al die absolute pragtige plekkies waar ons verby gevaar het!  Orals waar ons kyk, is daar net seilbootjies, yachts en pragtige wit strandjies met huisies wat romantikuste snags wakker hou! Definitief bietjie begeer – sies Nelie! 
By Manly Beach aangekom, moes het net gou vir ‘n 20 min. rug, nek en skouers massering stop by ‘n stalletjie in die stasies.  Die “masseuse” met die mees fantastiese hande van Japan, het besluit die 20min. moet verander in 50min. 
Daan sal al reeds op die strand wou wees, maar gelukkig was sy geliefde Nando’s naby.  Ek moes net my oe toeknyp en verby al die oulike winkeltjies loop oppad strand toe.
Nog ‘n strand waarop Oz baie trots kan wees.  Ons het ons tuis gemaak ek heerlik gelees, ontspan en vir al die mense gekyk – ietsie van als.  Van die besigheidsman met sy pak en blink skoene tot die “skoolies” en jong kindertjies wat baljaar in die glowe saam met oupa en ouma.   En voor ek vergeet die “Mens Health” model en die tannie wat besluit het ‘n bikini toppie is nie vir haar nie.
Na so paar uurtjies in die sonnetjie het Lindi en klein Thomas ons kom oplaai.  Hoe lekker was dit nie om weer vir Lin te sien na 8 jaar nie.  Lindi het ons rondgery deur die straatjies van Mossman en al die pragtige huisies en Jakkarandabome waardeer het.
Ons het gestop by ‘n strandjie in Mossman.  Met ‘n koffietjie in die hand het ons langs die mooi strandjie gestap en vir Thomas geniet.  Hy is nou net net braaf genoeg om die wereld om hom op sy eie te verken.  Baie selfversekerd, maar baie harde werk vir mamma Lin.
Ons moet se, so ou klein lyfie lyk “life changing” maar bitter lekker!!!
Na nog ‘n Ferry rit van Mossman na Circular Quay, het ons besluit dat Sydney ons gunsteling stad is by verre – die weer speel ook natuurlik ‘n groot rol in die besluit!  Nooit gedink ons sou so baie van Australie hou nie.
Terug by ons woonstel het ons vir Neill Bosman gekry, hy het bietjie by ons kom kuier vanuit Canberra en was dit was baie lekker om weer bietjie met hom op te vang.  Ons het die jare terugugerol en vir Sydney gepubcrawl  soos drie 24 jariges!  Ons het begin by die Harbour Bridge Hotel en geiendig by die Ivy – ‘n massiewe nagklub vol mense van alle rasse en kulture, kan maar net se mojito, mojito!
Saterdagooggend het ons heerlik gaan brekkie in die Queen Victoria gebou – ‘n pragtige Victoriaanse gebou en baie bekende winkelsentrum met klomp van die wereld se bekendste ‘’designer’’ winkels en boutique winkeltjies.
Hierna het ek en Neill aangegaan waar ons die vorige aand opgehou het en Sydney al stappende plat gepubcrawl.  Vanaf die Rocks, tot by die Opera House het ons Sydney al lopende en bierdrinkende verken.  Nelie het besluit om by die huis te bly en bietjie verlore slaap in te haal. 
Die aand het ons soos die drie musketiers eers ‘n paar haanstertjies op Darling Harbour gedrink en toe vir Lindi en Matt vir ‘n pizzatjie in Kings Cross ontmoet.  Die aand was heel jolig en baie pret, ons het dit afgesluit by nog een of ander obskure nagklub op Darling Harbour en 3vm by die huis aangekom, nie te bekommerd dat ons oor 5 ure moes vertrek lughawe toe nie.  Wat ‘n heerlike aand en fantastiese 4 dae in Sydney! 
Alles en alles was Australie ‘n bo verwagting lekker ervaring gewees en dit is baie maklik om met die Ozzies te vereenselwig in terme van klimaat, leefwyse, sport en kultuur.  Australie sal ons definitief weer sien, net jammer dit is so ver en so duur!  Weereens baie dankie aan al ons Ozzie Suid Afrikaanse vriende, ons het heerlik saammet julle gekuier en sal julle gasvryheid nooit vergeet nie. 
Oppad na Sydney

Sydney Harbour Bridge

Ons Cabaret vertoning in Darling Harbour.

                                                 Kuier saam met Andrew en Alice.
                                                                  Manly Beach
                                                     Saam met Lindi se seuntjie Thomas.


                                               Ons saam met Neill in die Ivy.


                                             Ete saammet Matt, Lindi en Neill
  

Saturday, 4 December 2010

                                                           Ons Camry is koning!

Byron Bay en Port Macquarie 21,22 en 23 November
Met die lekker tydjie by die Groblers nog vars in ons gedagtes, was ons eerste stop op die Gold Coast Surfers Paradise.  ‘n Klomp ‘’high rise’’ woonstelblokke, baie restaurante en baie ‘’schoolies’’ (dit is hulle matrieks en hierdie week op matriekvakansie).  Bietjie plastiek, maar heel lewendig!  Na ‘n baie lekker brunch het ons in die pad geval, af langs die Gold Coast en tot in NSW!  By Byron Bay aangekom, was dit ‘n heerlike ervaring om vir ons ‘n blyplekkie te soek!  Byron Bay is ongelooflik mooi, kon netsowel Plett gewees het, met so ‘n bietjie van’n hippie atmosfeer aan hom!   Ons het by 4 plekkies gestop, almal met ‘n fantastiese uitsig en baie modern!  Op die ou-end het ons besluit op die Beach Royal Apartments, reg op die hoofstrand.  Dit is ‘n self catering woonstel, super modern en ‘n heerlike stoepie wat uitkyk oor Byron se witstrand en blou water, ons sou vir ‘n maand hier kon bly!  Na ‘n potjie tennis en ‘n lekker swemmie, het ons besluit op ‘n aandjie in, heerlik Grey’s series 3 (ja, ons is nou eers daar!) gekyk en lekker fillet met groenpepersous geeet.  Natuurlik ons kossies met ‘n Wes- Australiese Shiraz afgesluk!  Heerlik!
Volgende oggend het ons die strand saammet al die schoolies aangepak en sommer semi-heimwee gekry, voel soos noudiedag toe ons lekker op Hermanus en Plett se strande as 18 jarige wysneuse rondgebaljaar het.  Ek en Nelie lyk darem nog so jonk, dat ons oral in Byron die 15% schoolie discount gekry het. (Net ‘n grappie –hiehie!) Ons het heerlik gecocktail, sushi en wyntjie, en toe ons weer ons ogies uitvee is dit slaaptyd en more oppad na Port Macquarie ons halfpad stop voor Sydney.
Ons is vroegerig op en na ‘n ligte ontbytjie by Byron se baie beroemde Ligtoring het ons die 400 kilos na Port Macquarie aangedurf.  Weereens was dit heelpad pragtig groen, met die wereld wat afwissel tussen groen vlaktes, bree riviere en pragtige bergagtige reenwoude.  Hier en daar deur ‘n paar minder mooi klein dorpies gery en vrek baie spoedkameras gesien.
By Port Macquarie aangekom, was dit weer hoteljag en ons het op die Regis in die middel van die dorp/stad (voel soos ‘n dorp, maar seker eintlik ‘n klein stadjie) besluit.  Port Macquarie is ook pragtig en ons hotel het basies oor die riviermonding in die see uitgekyk.  Na ‘n lekker laatmiddagslapie was dit dorpie verken, toe heerlike vis en chips (die Ozzies is net so groot soos die Britte op hulle vis en chips!) en toe was dit kamer toe, want more moet daar weer veeeeer gery word.
                                           "G&T" en boeklees op die bank - Byron Bay.
                                                      Byron Bay Beach

                                              Uitsigpunt by die "light house".
                                       
                                            Byron Bay "light house"

                                                     En so groet on Byron Bay.




Tuesday, 30 November 2010

17de – 20ste November Naranga (Brisbane)

17de – 20ste November                          Naranga (Brisbane)
72 Cottonwool Street Naranga en die Grobler’s het ons verwelkom na nog ‘n lang dag op “Highway One” tussen Bundaburg en Brisbane.  Behalwe vir ‘n aftrek en blaastoetsie deur ‘n vriendelike Ozzie speedie (ek het seker bietjie dodge gelyk agter die stuuur van my magtige wit Camry) het ons rit sonder enige voorval verloop.  By die Grobler’s aangekom is ons baie gasvry ontvang deur Joe, Julz, Keaton, Zanelle en veral Bella (hulle 6 maande oue Labrador)  Na ‘n biertjie en wyntjie het ons gesmul aan Julz se tuisgemaakte Lasagne en vinnig, vinnig opgecatch op die 4 jaar wat ons mekaar nie gesien het nie.  Biertjies, wyntjies en toe Joe se spesiale 18 jaar oue brandewyntjie het gevloei en toe ons weer ons rooi ogies uitvee, was dit “way past our bed time”.
Die volgende oggend het ons gou met Bella gaan draf (arme Joe moes gaan werk!). Daarna is ons na die “Koala Sanctuary” in Brisbane, waar Nelie ‘n Koala kon cuddle en ek van ‘n Emu tot ‘n Kangaroo gevryf het, asook baie eksotiese voels en ander interessante diere soos ‘n plattepoes (nie seker oor die spelling nie - kruising tussen ‘n eend en ‘n bewer) gesien het.  Hierna was dit na Brisbane vir bietjie “shopping” in “Queen Street”, ‘n paar haanstertjies by Jimmy’s en toe heerlike Thai Kossies by Jay Budha op die Brisbane Rivier met ‘n pragtige uitsig oor “Story Bridge”.  Nog ‘n aand het verby gevlieg en na ‘n vinnige “cruise” op met die rivier (Brisbane is pragtig so van die water af) en ‘n skyfie Pizza vir die wus en die onwus en nog ‘n haanstertjie of 2 by Jimmy’s, moes Julie die 40 km na 72 “Cottonwool Street” aandurf, met 2 slapende passasiers in Joe en Nelie, en my met al my intiligente 2 uur in die nag gesprekkies om haar geselskap te hou. Well done Julz!
Die volgende oggend is ons wolkopperig op en in die karre op na Noosa toe, so uur en ‘n bietjie Noord van Brisbane, wat ‘n pragtige plekkie!  So ‘n kruising tussen Plett en Knysna, met ‘n ongelooflike mooi strand, blou water, pragtige winkeltjies en keurige eetplekkies.  Ons sal maklik weer daar kan vakansie hou!  Ons het heerlik saammet die kids in die see baljaar, lekker Sauvignon Blanc gedrink van die Malborough Region in New Zeeland en aan fantastiese kalamarie gesmul om ons ewige honger te prober stil.
Oppad terug het Joe ons met ‘n pragtige ompadjie na Montville geneem in die Glass House Mountains, waar ons kon uit tuur oor die ‘’Hinterland’’ en ‘n heerlike Cuppacino geniet het saamet ‘n ligte reentjie wat ons laat voel het of ons iewers in Switzerland in die Alpe sit en koffie drink.
Terug by die huis het ons lekker gebraai en na ‘n heel woelige 2 dae nie te laat in die kooi gaan kruip nie.
Na ‘n broodnodige laatslaap, het ons weer saammet Bella gaan draf – die woonbuurte in Australie is so voetganger vriendelik, ooral sypaadjies in parke vir die kids!)  Toe ‘n heerlike brunchie, bietjie siesta en terug na “Montville” om al sy klein “boutique” winkeltjies te gaan besoek (gister was als reeds toe, toe ons daar aankom).  Nelie het vir haar so paar souvenirs opgetel en ek ‘n heerlike dark Belgian chocolate brandewyn!  Terug by die Groblers het ons ‘n take-away Chinese gekap en met die wete dat ons kuiertjie na die einde se kant toe staan ‘n hond uit ‘n bos gesels tot ons ogies letterlik toe geval het.   Sondag oggend vroeg op, het ons hartseer gepak, terwyl ons gekyk het hoe Skotland, ou Snorre se Bokkke op Murrayfield verneder!  Met ‘n traan in die oog het ons vir almal totsiens gese en in ons witskip gespring opppad na “Byron Bay”.  Joe en Julz, baie dankie vir julle  gasvryheid, ons het heerlik gekuier en gaan julle al 5 baie mis!
Noosa

                                                       Die manne op ontbyt diens.
                                                Die spesiale brandewyn winkeltjie.

                                                In Montville voor die kersfees winkeltjie.


                                        Zanellie drink haar "Baby Cino" by "The Poetry House"
                                                        "Gold Coast" hier kom ons!

Tuesday, 23 November 2010

14de -17de November


14de November                                         Gladstone
Vandag was ‘n stywe endjie se ry.  Na ons vertrek het by Allawah, het ons die heerlike broodjie en avo en pampoen wors vir ontbyt gehad oppad.
Ons het letterlik gekies om te gaan duik by die  heel Noordste eiland  (Lizard Island) en die heel Suidste eiland (Lady Elliot Island).  Om dit egter te kon regkry moes ons oorslaap by Gladstone.
 Na 14ure op die pad, het ons veilig geslaap in ‘n Motel in Gladstone.  Nodeloos om te se, het ons  nie veel van Gladstone gesien nie, maar die asemrowende natuurskoon tot hier baie geniet en waardeer. Aussie is ‘n ongelooflike plek.  Ons het heelwat reen gekry oppad so ongelukkig sal geen foto die skoonheid kon vasvang nie.
“It’s time to get up, it is 6:30am” het ons Aussie foon se wekker ons vroeg vroeg herinner dat ons weer in die pad moet val.  Na so uur het ek besef my geliefde mediese kussing is mooi netjies op Gladstone se  Motel bedjie agterwee gelos.
Juis gister het Daan gese dat ons sover goed gedoen om nog niks nerens te vergeet het nie...  Goed betyds vir ons vlug na Lady Elliot by Bandaberg lughawe het ons gereel dat my kussing na Joe en Julie gekoerier word in Brisbane.  Let’s hope for te best!

15de-17de November                             Lady Elliot Island
Lady Elliot was gou gedoop as Lady Shmelliot!  Genugtig, die eiland is ongelooflik mooi, maar die reuk iets verskriklik.  Daar is ‘n kolonie voels wat op die eiland woon.  Dit is nou ongelukkig nie net vir die seeskilpaaie “nesting seson” nie, maar vir die hordes en hordes voeltjies ook...
Ingesettle in tent 9, het ons nie ‘n keuse gehad om gou gewoond te raak aan die voels se ruik nie.  Ons het juis die eiland gekies om manta rays en seeskillies te sien.  Binne ‘n uur het ons bewys dat ons gesertifiseerde PADI duikers is en ons nuwe duik maats ontmoet.
Hoe wonderlik, na ons eerste duik het ons ‘n seeskillie se dop gestreel  20m onder die see!  Manta’s was bietjie skaam die ronte.  Na ons al die kommentaar  oor die eiland op Trip Advisor gelees het, het ons nie te veel verwag van die kos en die diens nie, so ons was aangenaam verras met lekker kossies en vriendelike diens!    Voor slaaptyd het ons onder die maanlig, hand aan hand gaan stap en lekker gesels( baie romanties, soos twee hoerskoll verliefdes –hie,hie)
Die voels het ons vroeg uit die vere gejaag, reg vir ons duik.  Ons het weer “turtles” gesien, maar net t e ver om te streel.  Die duik was ongeloofllik, alhoewel die koraal nie so kleurvol is soos ons vorige duike op die GBR nie.
Die meeste mense gaan na die eiland toe om te snorkel.  Die website het die waarheid gepraat toe hulle gese het dat jy saam met rif haaie kan snorkel.  Ek verkies dit om hulle te sien saam met ander duikers en in my duikpak.  Ek en Daan het hulle gesien, opgekom vir asem,  gekyk en vinnig terug geswem!
Na ons die hele oggend in die oseaan spandeer het, het ons met ons nat lywe ‘n  yskoue “Hahn” geniet by die bar.  Hahn was die bier van die uitstappie, aangesien dit die half prys bier was.
Na ‘n heerlike middagslapie en ‘n ronte tafel tennis het ek weer my stink see “booties” aangetrek, reg om vir oulaas die seeskilpaaie te gaan soek.  Na ‘n uur se gesnorkel – stroom op, het Daan hulle vir my gekry.  Daar was drie van hulle en net ons.  Dit was een van die wonderlikste ervaringe ooit.  Hulle het ‘n rukkie geneem om ons te vertrou, maar daarna was hulle so mak soos lammetjies.
Hulle kon nie genoeg kry van ons nie.  Sodra jy hulle ophou krap op hulle doppe en onder hulle lyfies, lig hulle, hulle pootjies op en maak oogkontak.  Terwyl ons met hulle speel, “snack” hulle aan klein jelly vissies wat verby swem.  Na nog ‘n uur moes ons hulle groet en terug swem strand toe.
Ons het lekker geeet en nuwe mense ontmoet.  ‘n Franse paartjie, twee kerels van Engeland en dan ook David Pocock (die welbekende flank van Australie) se ouers.
Na ete het ons ‘n botteltjie rooiwyn bestel en op die strand, onder die sterre hemel,  gaan le en gesels oor al ons drome en ideale.
“Lady Shmelliot” se reuk het ons gewoond geraak en het die twee dae baie geniet.  Hoe kan ek vergeet... ons twee rugsakke het agter wee gebly voor ons tent.  Daan het 2 keer gaan vra of hulle ons bagasie voor die kamer gevat het en op die klein vliegtuige gelaai het.
Nodeloos om te se het ons passasiers by ‘n ander lughawe afgelaai en besef dat ons twee rugsakkies nie op die vliegtuig is nie.  Ons loods het vinnig op sy voete gedink en gereel dat hy met die volgende vlug die sakke vir ons na die lughawe sal neem, sodat ons nadat ons, ons motor- met al ons res van ons besittings in die kattebak, kan kry en in die pad val. 
Ons het op die ou einde, hoogstens ‘n half uur verloor en voor donker by Joe en Julie aangekom.




Saturday, 20 November 2010

11de – 14de November Allawah Retreat, Tolga, Atherton Tablelands

11de – 14de November                                Allawah Retreat, Tolga, Atherton Tablelands
Na ons besige duikekspidisie was 3 dae by Allawah net wat ons nodig gehad het!  Die Tablelands, is ‘n area so 80 km Suid van Cairns, waar bergagtige tropiese reenwoude, groot vlaktes ontmoet, met ‘n resultaat natuurlik ‘n ongelooflike mooi uitsig!  Ons chaletjie was dan ook teen ‘n koppie, met ‘n pragtige uitsig.  Die Jacuzzi op die patio het natuurlik die uitsig soveel mooier gemaak.  Vir 3 dae het ons nie veel beteken nie, DVD’s gekyk, laat geslaap, gejacuzzi en heerlik gebraai op die weber. 
Die weer was ook bietjie renerig, wat die hele ervaring net soveel meer romanties gemaak het.  Ons het darem een uitstappie gehad, na die plaaslike groente en vrugte delicatessen, drankwinkel  en slaghuis!  Heerlik ontspan, koerant gelees en bietjie ingehaal op ons blog.  Ons het ook twee keer gaan draf, nogals harde werk, aangesien die laaste kilometer styl opdraand was!  Daar was gereeld kangeroos op ons draffies asook 2 baie oulike possums wat ons elke aand kom besoek het.  Hulle lyk baie soos oorgroot nagapies en is ookal nogals rats in die bome!
Peter en Trish, die eienaars van die “Spa Resort”, het ons elke oggend bederf met ‘n klein vars gebakte broodjie in ‘n mandjie.  Peter het dit afgelewer met sy 4 wiel moterfiets.  Ons het die heerlike broodjie geniet  saam met Trish se tuisgemaakte “passion fruit jam”.
Ons verruil die paar lui lekker dae vir niks nie!!


Thursday, 18 November 2010

8ste – 11de November Spirit of Freedom “Great Barrier Reef”

8ste – 11de November         Spirit of Freedom “Great Barrier Reef”
Live aboard!  Ons eerste live aboard ervaring ooit en dit nogalS op die “Outer Great Barrier Reef”.  Ons het vertrek vanaf Cairns hawe en sommer vinnig vinnig die mede duikers en “crew” leer ken.  Mossy was die dive master en Phil (Elvis) sy regterhand.  Meg was ons gasvrou en dan was daar nog, ninja Norri, Claire, Chris en baie belangrik ons kok Andrew.
Die program was baie eenvoudig  duik, eet, duik, eet vir ‘n totaal van 12 duike en 15 etes in drie dae!  Ons weet nie wat was die lekkerste nie, die kos of die duik?? 
Aand een het ons die 250km noord vanaf Cairns op die GBR aangevat na Ribbon Reefs nege en tien.  Die see was bietjie rof en het nie baie goed met onse Neel geakkomodeer nie.  Na die tweede duik het ‘n oorpyn ook vir duiker Daan gekniehalter!  Maar daar is niks wat ‘n snytjie droe brood, ‘n paar seesiek pilletjies en” Mossy’s magic eardrops” nie kan uitsorteeer nie.  Die volgende oggend was ons weer die kat se snor!
Ons het tussen die kleurvolle koraal, skole vis, hier en daar ‘n haai en seeskilpad, die riwwe heerlik verken.  Wat ‘n voorreg!!! 
Na die duik (en saam met ietsie lekkers te ete)  het ons heerlik saam met al ons nuwe maats gelag vir die Brazilianers.  Nie net kon hulle nie Engels praat of verstaan nie, maar die koddige vroutjie was HEELTYD seesiek en haar man was die eintlike “clownfish” op die reef (boyensy non existant!)
Dan was daar ook Karen Rosenkranz, ons verneem dat sy van Duitsland is, maar is bereid om geld te waag op Mars.  Buiten Mars en Brazilie was die res van die duikkroos so ‘’normaal’’ soos ons –hie hie!  Ons het vet pret gehad en veral lekker gekuier saam die twee “kaaskoppies” Daisy en Twan, ons “dive buddy” Robbin, Remmie die Fransman en uncle Dave die grootmond Amerikaner.  Dan was daar ons Jackie en haar man, Paul en Chiang en Xavier en sy vrou.
Ons kan nie genoeg uitgepraat raak oor die vriendelikheid en professionaliteid van die bemanning nie!  Het dit al reeds genoem, maar die groente en vrugte in Aussie is uit ‘n ander wereld.  Meg het rondgeloop en ons bedien met ‘n “fruit platter” – to dive for!!
Ons cabin (jammer Pa Johan, ons weet nie wat is die Afrikaanse woord nie) was bo verwagting gerieflik.  Lekker dubbel bedjie, heerlik koel en en-suite.
As mens na ‘n duik oor die see uitgetuur het, besef mens hierdie tipe geisoleerdheid is uniek, ons het dit ook in Namibie endie Moremi beleef, maar net nie in soveel luuksheidheid nie.
Met soveel passie vir die koraalrif en sy ekosisteem het Mossy ons ervaring, nie net veilig nie, maar ook opvoedkundig gemaak.  Ons duikhoogtepunte was sonder twyfel die nagduik saam met Robbin (hy het twee flitsligte gehad, wat Ingwelala se “spot light” na niks laat lyk nie) nodeloos om te se het al wat ‘n roofvis was die lig gebruik om te jag en Daan het gedink dit is net ‘n kwessie van tyd voor een van die Giant Travelli’s, Tuna of Barracuda een van sy ledemate vir ‘n apperatief sou aansien.  Dan was daar natuurlik ook ‘n reuse Logger Head Turtle en ‘n paar “ Reef Sharks” om ons te laat wonder ...
‘n Ander hoogtepunt was ons laaste dag se duik in die “COD HOLE” ‘n wereldberoemde duik plek naby Lizard Island.  Hier het ons reuse “Potato Cods” gevoer en soos ons video sal wys, was hulle grooter as die haaie in die omgewing.  Wat ‘n ervaring!
Ons het ons tydjie op die Spirit of Freedom afgesluit met ‘n ware Aussie BBQ.  Kangaroo, swaardvis, sirloin steak en hoender. Bykosse was, mielies, aartappel slaai, prawn en avo slaai, griekse slaai en heerlike vars gebakte brood.  Dit alles moes ons afsluk met heerlike Shiraz van Wes-Australie.  Al hierdie kos en die geselsies van ons nuwe duik vriende sal ons vir altyd bybly.
Ons laaste oggend het ons vroeg afskeid geneem van die Spirit en sy bemanning en met ‘n knop in die keel ‘n pragtige vlug vanaf Lizard Island terug na Cairns geneem.
Dit was asembenewend om die see, koraalriwwe, wit strande en donkergroen reenwoude in mekaar te sien weef, Noord-Oos Australie is pragtig!

                                                              Sonsondergang na 'n duik.
                                                                    Duikspan A
                                                                       Spirit of freedom
                                                                        Lizard Island
Ons vliegtuig van Lizard Island na Cairns.

                                                                   "Amazing!!"

Saturday, 13 November 2010

Port Douglas 5 -9 November

Port Douglas 5 -9 November
Na nog ‘n vlug, die keer van Melbourne tot by Cairns, het ons vroegmiddag met weereens ‘n Toyota (die Ausies en Hertz is mal oor Toyota’s) die keer ‘n Corolla, by pragtige Port Douglas aangekom.  Ons het nie regtig geweet wat om te verwag van Parrot Fish Lodge nie – ons enigste “Youth Hostel” op ons trippie in Oz!  Ek weet ons is al bietjie laaank in die tand, maar ons was darem ingelaat, seker omdat ons nie in ‘n dorm bly nie, maar in ons eie en-suite.  Gelukkig is Parrot Fish Lodge in die hartjie van die dorp, stapafstand vanaf alles, so baie gerieflik.
Port Douglas is ‘n pragtige plekkie, baie soos Keurbooms, maar met Knysna se Waterfront – weet nie of dit sin maak nie... Getrou aan tradisie het ons heerlik geeet, Baramundi (plaaslike vis), Bugs(tipe baie lelike maar lekker prawn) Calamari, Pizza, slaaie en nog vele meer.  Hoogtepunt was ons laaste aand by Salsa, waar die seekos ongelooflik was en die nagereg, ‘n butternut crème brulee met een of ander sjokoladeneut roomys, was heel moontlik die lekkerste nagereg wat ek al in my lewe geproe het! Ons het ‘n fototjie geneem, miskien kan Phillie dit probeer namaak.
Vir al die eet, was ons darem ook aktief, 2 keer lekker op die strand geoefen en een keer het ek en Nelie nie net die dorp plat gery met ons huurfietsies nie, maar ook die baie bekende“4 mile beach” kaf getrap.  Nie net was dit ‘n baie goeie “workout “nie, maar dit was ook baie mooi, een van die min plekke waarvan ons weet, waar mens op die strand kan fietsry!
Ons het ook ‘n dagtrippie na die Daintree reenwoud en Cape Tribulation gedoen.  Hier het ons ‘’Tree Surfing’’ in die reenwoud gedoen.  Basies met harnasse tussen hoe bome op kabels gly, dit was baie pret, ons het heerlik gelag en hier en daar het hoogtevrees bietjie ingeskop.  Dit was ongelooflik om tussen 1000 jare oue bome te hang en uit te kyk oor berge en die see!  Cape Tribulation is ‘n Backpackers dorpie, met ‘n paar lodges en kampplekkies, herinner verskriklik baie aan Natures Valley.
Getrou aan tradisie, het die youngsters in ons hostel gekattermaai tot baie laat op aand 1 en ek en Nelie het toe maar op aand 2 besluit ‘’if you can’t beat them, join them’’.  So het ons na ons Pizzatjie by Ratlles bietjie begin ‘’Pub Crawl’’ en so teen middernag opgeeindig in The Iron Bar, waar Nelie iemand se dansskoene geleen het, en ek baie gesukkel het om haar teen 02.00 van die dansvloer af te kry!  Getrou aan tradisie het ons ‘n kebab gekry oppad huistoe, weet tot nou toe nie of dit gewerk het of nie!
Port Douglas was ongelooflik lekker, die dorpie het baie karakter, pragtige natuurskoon en ‘n heerlike swemstrand, ek sal vir enige besoeker aan die Australiese Noordkus aanbeveel om daar te gaan draai!
                                            Daan het die "bugs" probeer -yummy!

                                          Uitkykpunt oor Port Douglas se "4 mile beach".

.                                                             Pub Crawl Galore!
                                                   ''Tree Surfing'' in die Reenwoud!

Friday, 12 November 2010

1ste - 5de November Melbourne

1ste -5de November Melbourne
Ons het 10:45am vertrek vanaf Perth en  17:15pm arriveer in Melbourne.  Perth : SA 6/7 ure gewen, Perth: Melbourne nog 3 ure gewen.  Net genoeg om twee Van den Heevertjies se slaappatrone lekker deurmekaar te maak.
Ons het dadelik verlief geraak op Melbourne.   Dit laat ons vreeslik dink aan San Francisco, net mooier en skoner. 
Ons kan nie genoeg dankie se vir oom Abie en Tannnie Yvette nie.  Hulle was so onsettend gasvry om vir ons hulle woonstel ,in die hartjie van Melbourne, se sleutel  by die concierge’s te los, terwyl hulle vakansie hou in Suid-Afrika.
Ons GPS het ons sonder enige mooite voor hulle woonstel blok laat stilhou in Port Melbourne, Rouse Street.   By die concierge kry ons toe ‘n mooi rooi boksie wat op staan, Abie en Yvette Spies.  Soos tannie Yvette in haar e-pos vir my gese het “Ons is no. 91 op die 9de vloer.  Daar is twee torings.  Ons is toring no. 95.
Ongelooflik!!! Ons moes onsself knyp om te kan glo wat ons sien.  Net vir onsself,‘n panoramiese uitsig oor die see en ‘n beeldskone snoesige woonstel vir 4 dae.
Die mense in Melbourne is baie aangenaam.  Die kwaliteit van die vrugte en groente is ongelooflik.  Tannie Yvette het vir ons appels in haar oulike olifant vrugte bak gelos.  Daan het geskrik toe ek ‘n appel vat en begin eet –hy het duidelik gedink dit is net vir die mooi en nie om te eet nie.
Ons het vreeslik uitgesien om mekaar aantevat vir ‘n potjie tennis, maar ongelukkig was ons “timing” uit tussen al ons ander aktiviteite en die weer.  Ons het wel bietjie gaan gym en ‘n onsself uitasem geswem – swempet  en swembrille, die hele spul.
Dit is so moeilik om uittesonder wat om te doen elke dag.  Een van ons hoogtepunte was “Great Ocean Road”.  Victoria se bekende suid-westelike kus roete.  Daar was net een probleempie... die moegheid het ons oorval.  Na ons brunch (2:30pm), oesters, kalamarie en ‘n glasie champers moes ons eers bietjie rus.
Ons het afgetrek by ‘n Spa Hotel en ongelukkig nie in die hotel nie, maar onder ‘n boom ons Camry geparkeer, die sitplekke agtertoe geslaan en vir 50 min ‘n “power nap” gevang.  Uitgerus het ons die beeldskone natuur van die kusroete baie geniet.  Ons het ‘n koffiewinkeltjie gesoek om by stil te hou in die reenweer, maar te vergeefs weer opgeeindig in ‘n resturant/bar met ‘n glasie rooiwyn.  Die “locals” het ons vermaak met hulle uitrustings van die Melbourne Cup en hulle musiek smaak.
Die volgende oggend, was ons so 20 toeriste  wat in ‘n bussie die Yarra Vallei se pragtige wynlande besoek het.  Die Yarra Vallei is so uur se ry, Noord-oos van Melbourne.
Ons het 4 wynlande besoek waarvan twee “Boutique wineries”  was.  Ons was bederf met ‘n lieflike middagete by “Rochford”.  Ons het salmon gehad met smaaklike aspersies.  Rochford het ‘n klein gallerytjie en ‘n oulike winkeltjie.  Wie het al ooit gehoor van ‘n Pinot Noir seep?  Hulle is ook bekend vir hulle opelug konserte langs die wingerde.  Onderandere het Nora Jones al daar opgetree.
Nadat ons heerlik vino geproe het en geslaap het oppad terug in die bussie het ons bietjie in Port Melbourne rondgeloop.  Daan het besluit dit is nou tyd vir ‘n haarsny en ek het my eerste ThaI massage gehad.  Die massering was lieflik en ‘n hele uur lank.  Daan was fluks en het bietjie langs die see gaan draf vir ons part.
Gou deur die stort gespring , reg om vir Maggie en Tom te kry vir aandete in St Kilda.  Dit was so lekker om weer vir Maggie te sien .  Dit gaan baie goed met haar en Tom in Melbourne.  Ons het by ‘n buzzing plekkie geeet en heerlik gekuier.  Ons sal mekaar gelukkig weer in Plett sien, aangesien ek vergeet  het om ‘n foto te neem tussendeur al ons geselsies deur.
Verder het ons die “City Tram” geneem wat reg rondom die stad ry.  So het ons ook bietjie  langs die rivier gaan stap en al die mooi geboue bewonder.  Alles is so skoon en rustig, ek moet se ‘n mens kry glad nie die stads gevoel in Melbourne nie.
Ons het oor die hele Melbourne uitgekyk vanaf die Eureka Tower se 88ste vloer.  Ons het  vandaar bo gesien dat daar krieket gespeel word by MCG – Aus teen Sir Lanka.  Ons het rustig aan cappuccino gedrink en ‘n paar poskaartjies geskryf.  Die poskaarte daar en dan gepos vanaf die hoogste posbus in Aussie.
En so is ons tydjie in Melbourne ook nou verby.  Ons neem net goeie herinneringe saam met ons en hoop om eendag weer hier te kan uitkom. 
                                           
                                                                          Oesters en Champers by die Waterfront



                 Great Ocean Road


            Melbourne City

                                           Yarra Valley

Tannie Yvette en Oom Abie se mooi uitsig.