Search This Blog

Saturday, 4 December 2010

                                                           Ons Camry is koning!

Byron Bay en Port Macquarie 21,22 en 23 November
Met die lekker tydjie by die Groblers nog vars in ons gedagtes, was ons eerste stop op die Gold Coast Surfers Paradise.  ‘n Klomp ‘’high rise’’ woonstelblokke, baie restaurante en baie ‘’schoolies’’ (dit is hulle matrieks en hierdie week op matriekvakansie).  Bietjie plastiek, maar heel lewendig!  Na ‘n baie lekker brunch het ons in die pad geval, af langs die Gold Coast en tot in NSW!  By Byron Bay aangekom, was dit ‘n heerlike ervaring om vir ons ‘n blyplekkie te soek!  Byron Bay is ongelooflik mooi, kon netsowel Plett gewees het, met so ‘n bietjie van’n hippie atmosfeer aan hom!   Ons het by 4 plekkies gestop, almal met ‘n fantastiese uitsig en baie modern!  Op die ou-end het ons besluit op die Beach Royal Apartments, reg op die hoofstrand.  Dit is ‘n self catering woonstel, super modern en ‘n heerlike stoepie wat uitkyk oor Byron se witstrand en blou water, ons sou vir ‘n maand hier kon bly!  Na ‘n potjie tennis en ‘n lekker swemmie, het ons besluit op ‘n aandjie in, heerlik Grey’s series 3 (ja, ons is nou eers daar!) gekyk en lekker fillet met groenpepersous geeet.  Natuurlik ons kossies met ‘n Wes- Australiese Shiraz afgesluk!  Heerlik!
Volgende oggend het ons die strand saammet al die schoolies aangepak en sommer semi-heimwee gekry, voel soos noudiedag toe ons lekker op Hermanus en Plett se strande as 18 jarige wysneuse rondgebaljaar het.  Ek en Nelie lyk darem nog so jonk, dat ons oral in Byron die 15% schoolie discount gekry het. (Net ‘n grappie –hiehie!) Ons het heerlik gecocktail, sushi en wyntjie, en toe ons weer ons ogies uitvee is dit slaaptyd en more oppad na Port Macquarie ons halfpad stop voor Sydney.
Ons is vroegerig op en na ‘n ligte ontbytjie by Byron se baie beroemde Ligtoring het ons die 400 kilos na Port Macquarie aangedurf.  Weereens was dit heelpad pragtig groen, met die wereld wat afwissel tussen groen vlaktes, bree riviere en pragtige bergagtige reenwoude.  Hier en daar deur ‘n paar minder mooi klein dorpies gery en vrek baie spoedkameras gesien.
By Port Macquarie aangekom, was dit weer hoteljag en ons het op die Regis in die middel van die dorp/stad (voel soos ‘n dorp, maar seker eintlik ‘n klein stadjie) besluit.  Port Macquarie is ook pragtig en ons hotel het basies oor die riviermonding in die see uitgekyk.  Na ‘n lekker laatmiddagslapie was dit dorpie verken, toe heerlike vis en chips (die Ozzies is net so groot soos die Britte op hulle vis en chips!) en toe was dit kamer toe, want more moet daar weer veeeeer gery word.
                                           "G&T" en boeklees op die bank - Byron Bay.
                                                      Byron Bay Beach

                                              Uitsigpunt by die "light house".
                                       
                                            Byron Bay "light house"

                                                     En so groet on Byron Bay.